English  
Hoe om te meet

LEES & LEER:
Gebruik altyd 'n metaal maatband en NIE 'n materiaal een NIE aangesien hierdies geneig is om te rek en dus onakkuraat kan wees.
Alle blindings word volgens aangeduide mates gemaak, dus kan ons as die vervaardiger nie aanspreeklik gehou word vir verkeerde mates/dimensies deur die kliënt verskaf nie. Faks- of eposbestellings word dus bo verbale of telefoniese bestellings verkies.
Alle mates moet akkuraat in MILLIMETERS aangedui word.
Blindingmates moet PRESIES wees, dws u doen u eie aftrekkings - die mate wat u gee is die mate wat u kry.

ONTHOU OM ALTYD DIE WYDTE EERSTE TE GEE EN DAN DIE VAL!!

VERTIKALE BLINDINGS
Gebruik 'n metaal maatband en meet vanaf punt A na punt B (wydte) waar die spoor moet pas en vanaf punt C na punt D (val) waar die stroke sal hang soos in die diagram. Dit is die binnemate. Vir die val word die kortste kant van die venster of raam aangedui, anders mag die blinding op die vensterbank of vloer "sleep". Meet die diepte van die vensterbank. Vir 127mm breë stroke (standaard breedte) moet die diepte ten minste 80mm wees en 60mm vir 90mm breë stroke. Vir binnemate trek 7mm van wydte en 5mm van val af vir venster en 15mm van val vir vloere.

Ons werk met 'n toleransie van 3mm. Indien vensterbanke/vloere geteël moet word of vloere nog moet matte kry onthou om verdere aftrekkings te doen. Vir buitemate voeg by ongeveer 150mm aan beide kante van wydte indien moontlik, dit is 300mm in tataal en ongeveer 100mm bokant venster- of deurraam vir val. Onthou dat 'n blinding wat aan die buitekant van 'n venster ingesit word verby die vensterbank moet hang dus moet daar aan die mate bygevoeg word vir presiese wydte en val. Dui of die blindings aan die buitekant hang vir die nodige komponente wat aan u verskaf sal word vir u doen-dit-self projek.

Indien die blinding vanaf die middel moet ooptrek soos 'n gordyn (C/S (centre split) of C/O (centre opening) of wanneer die bane wegtrek in die teenoorgestelde rigting vanaf die kontrolekant (reverse = Rev), word dit aangedui soos gegee. Indien die opening van die blinding normaal is, maw die bane ooptrek na die kontrolekant word dit aangedui met 'n N vir normaal. Waar blindings op twee aparte spore geïnstalleer word maar in een venster- of deuropening hang, kan die eerste baan van die een blinding en die laaste baan van die ander blinding oormekaar lê sodat dit die indruk van een blinding gee, en word dit aangedui met 'n O/L (overlap). U het slegs nodig om 'n kontrolelengte aan te dui indien u 'n bepaalde lengte verlang, dit is, die blinding mag dalk ongewoon lank wees of baie hoog teen 'n muur geposisioneer wees.

Moenie vergeet om die materiaalreeks, kleur en kode/nommer aan te dui indien verskaf nie. U sal oplet dat 'n aantal van die materiale nommers of kodes langs die kleur het. Die aantal lopers in die spore en materiaalbane word deur ons bepaal. Onthou om presiese blindingmates te bestel!!

ROL-, ROMEINSE EN BAMBOESBLINDINGS
Gebruik 'n metaal maatband en meet vanaf punt A na punt B (wydte) en van punt C na punt D (val) soos in die diagram. Dit is u binnemate. By 'n rolblinding indien u 'n bestaande ou blinding meet, meet van pennetjie na pennetjie van die rol of pyp (insluitend die hakiestel) wat die pennetjie-tot-pennetjie wydte genoem word. Indien u die materiaalwydte meet of die deel wat u deur materiaal bedek wil hê, moet dit as die materiaalwydte gespesifiseer word. Onthou dat die pypwydte verder sal strek. Indien 'n rolblinding aan die buitekant van die vensterraam of agter 'n deur geplaas moet word, is dit altyd die veiligste om die pen-tot-pen wydte of materiaalwydte aan te dui om te verseker dat die glasgedeelte heeltemal deur die materiaal bedek word.

Onthou ook om die presiese val van die blinding te meet. Moenie materiaal byvoeg om die pyp bo toe te maak nie aangesien dit deur ons gedoen word. Dui altyd aan aan watter kant u die kettingmeganisme geplaas wil hê. Die nodige komponente sal aan u verskaf word vir die voltooiing van u doen-dit-self projek. By rol-, romeinse en bamboesblindings dui ook aan die wydte by hoogte (val), materiaalreeks en kleur of kode, binnemate, pennetjie-tot-pennetjie (rolblindings), materiaalwydte (rolblindings), buitemate en kontrolekante. Wanneer u meet vir buitemate voeg ongeveer 100mm by vir wydte en val. By binnemate trek soos volg af: by rolblindings trek 5mm van wydte af en niks van val, by romeinse blindings trek 5mm van wydte en 10mm van val af, by bamboes 10mm van wydte af en 10mm van val, met 'n toleransie van 3mm by elke produk. Onthou om presiese blindingmates te bestel!!

HORISONTALE BLINDINGS (ALUMINIUM, HOUT, PVC & GELAMINEERDE HOUT)
Gebruik 'n metaal maatband en meet vanaf punt A na punt B (wydte) en van punt C na punt D (val) soos in die diagram. Dit is u binnemate. Dui altyd die kant van die kontrolemeganisme aan. Dui aan of die blinding binne- of buitemate is. Dui die wydte van die baan aan (50mm; 35mm; 25mm of 16mm) asook die korrekte kleur en kode. Vir binnemate werk ons soos volg: by 16mm, 25mm & 50mm aluminium blindings trek 10mm van wydte af en 5mm van val; by 35mm, 50mm en gelamineerde lindehout & 50mm PVC blindings trek 10mm vanaf wydte en 10mm vanaf val, met 'n toleransie van 3mm by elke produk.

Wanneer u vir buitemate meet, voeg ongeveer 100mm by wydte en val. Vir blindings wat tot op die grond gaan, doen die nodige aftrekkings sodat die blindings nie op die vloer "lê" wanneer hulle ten volle oopgemaak is nie. Onthou dat 'n blinding wat aan die buitekant van 'n venster ingesit is, verby die vensterbank moet hang daarom moet ekstra lengte bygevoeg word. Vir 16 & 25mm blindings word u voorsien van die nodige komponente vir u doen-dit-self projek. By die ander produkte word slegs die nodige hakies bygevoeg aangesien kliënte verkies om hulle eie proppies en skroewe te gebruik afhangende van waar en hoe die blindings geïnstalleer moet word. Onthou om presiese blindingmates te bestel!! By hoek- en komvensters benodig ons presiese mates vir alle produkte aangesien ons nie weet hoe hierdie blindings gepas gaan word nie.

Tuis | Produkte | Spesifikasies | Gereelde Vrae | Bestelvereistes meet | Kwotasie | Kontak | Span