Kan horisontale (venesiese) blindings by the kus gebruik word?
Alle horisontale blindings kan ‘n potensiële probleem inhou afhangende van die omgewing. Bepaalde probleme egter kan voorkom by silwer, goud, ongeverfde aluminium, geperforeerde en eksotiese kleure. Hout horisontale blindings behoort nie in nat gebiede of teen die see (by die kus) gebruik te word nie behalw met behoorlike versorging. Met genoegsame ventilasie behoort hulle geskik te wees. Indien u onseker is maak eerder gebruik van die PVC sintetiese horisontale blinding waar toestande dit vereis of die nuwe gelamineerde houtproduk wat deur ons verskaf word.
Hoe stabiel is die sintetiese hout?
Moenie, omdat dit ‘n sintetiese produk is, te veel geloof daarin plaas nie. Die bane kan, afhangende van die kleur (hoe donkerder hoe meer moontlik), onder uitermate toestande nogal erg kromtrek. Wat hierdie produk so populêr en makliker maak om te hanteer as egte hout is dat hulle met ‘n nat lappie skoongemaak kan word en meer robuust is. Dit maak dit amper ‘n “veiliger” produk. Hulle sal ook moontlik nie so maklik verbleik soos ware hout nie. Hulle is omtrent 35% swaarder as houtblindings. ‘n Ander gepaste plaasvervanger vir hout by nat gebiede is die nuwe gelamineerde houtproduk wat ook meer robuust is.
Het my hout- of bamboesblindings ‘n defek wanneer daar merke of vlekke op is?
Aangesien hout en bamboes natuurlike produkte is, word hulle onderwerp aan onvolmaaktheid, oneffenheid, buiging, kromtrekking en kleurvariasie inherent aan die produkte. Hierdie word nie as defekte beskou nie maar vorm deel van die natuurlike effek in die produk.
Kan ‘n persoon deur blindings sien?
Blindings word ontwerp vir dekordoeleindes en son- en ligbeheer. Vertikale en rolblindings is beslis nie so dik en dig soos gordyne nie. U sal vorms van buite kan eien wanneer ‘n lig aan die binnekant brand maar dan moet daar byna teen die vensterruit gestaan word. Daar is egter uitblok- (sonblok-) blindings vir privaatheid. Wanneer horisontale blindings toegedraai is, is dit moontlik om deur die blinding te kyk deur teenaan die venster te staan en van onder af na boontoe te kyk. Dit kom voor by baie lang blindings of blindings wat hoog vanaf grondvlak ingesit is. Wees bewus daarvan dat hout horisontale blindings nie so dig sluit soos ‘n aluminium horisontale blinding nie. Die uitblok-bamboesblinding is ook nie ‘n totale uitblokblinding nie. Gleufies lig sal deur die materiaal verskyn en dit kan nie verhoed word nie. Selfs al is vertikale blindings van uitblokmateriaal sal daar altyd ligstrepies tussen die bane te sien wees aangesien dit nie ‘n soliede gordyn is nie en skrefies lig sal ook gesien word tussen muur en blinding langs die kante. By rol- en romeinse blindings sal die gaping tussen muur en blindingkant ook ligstrepies deurlaat.
Hoe verhoed ek dat ‘n rolblinding skeef oprol?
Die blinding moet opgelei word om te verhoed dat die materiaal skeef oprol, veral waar die wydte smaller is as wat die blinding lank is. Indien u die blinding nie lei nie soos dit opgaan nie, sal die materiaal aan die kanthakies raak en die kante mag rafel. Indien dit wel gebeur kan die rafeltjies net netjies met ‘n skerp skêr afgesny word. U kan ook ‘n deursigtige lakvernis gebruik om die kante te spuit om verdere rafeling te voorkom.
Hoe verhoed ek dat bamboesblindings muf raak?
Blindings sal muf opkry indien hulle klam/nat word en nie onmiddellik drooggemaak word nie of wanneer hulle opgerol word terwyl nog klam. By die kus is dit belangrik om vertrekke gereeld te ventileer waar bamboesblindings geïnstalleer is of word aangesien humiditeit erg opbou waar huise vir lang periodes toe staan.
Verbleik blindings wat van materiaal vervaardig is?
Soos alle materiale sal blindingmateriaal met tyd ook aanduidings toon van verbleiking. Donker, helder kleure bleik vinniger as ligte, sagte kleure. Selfs bamboes en hout sal oor tyd verkleur aangesien hulle natuurlike produkte is, ongeag van hoe goed hulle teen die beskadigende effek van die son behandel is. |